Kleuter besig met 'n leeraktiwiteit by Greenhill
Kleuterskool Program

Ons Program & Kurrikulum

Holistiese ontwikkeling van 3 maande tot 5 jaar, gegrond in liefde, Christelike waardes en spelgebaseerde leer.

Bespreek ‘n besoek
Sien dit self

Ons program in aksie

‘n Kort video wys hoe ‘n gewone dag by Greenhill lyk, van vryspel op die baan tot die groot spiere wat aan die werk kom.

Speel video

‘n Dag by Greenhill, met die klem op groot motoriese vaardighede.

By Greenhill glo ons die eerste vyf jaar lê die fondament vir alles wat volg. Ons program is doelbewus klein gehou sodat elke kind gesien, gehoor en geken word.

Ons volg die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Kurrikulumraamwerk vir kinders van geboorte tot vier. Dit organiseer leer rondom ses Vroeë Leer- en Ontwikkelingsareas: Welstand, Identiteit en Samehorigheid, Kommunikasie, Verken Wiskunde, Kreatiwiteit, en Kennis en Begrip van die Wêreld. Welstand is die kern waarop die ander vyf rus, want ‘n kind wat veilig en versorg voel, is ‘n kind wat kan leer.

Die raamwerk skryf nie aktiwiteite voor nie. Dit gee ons ‘n manier om doelbewus te beplan en fyn waar te neem, sodat spel en leer by ons dieselfde ding is.

Ons ouderdomsgroepe

Elke ouderdom kry sy eie ritme

Kinders ontwikkel nie op ‘n vaste skedule nie. Ons groepe volg breë fases, en binne elkeen kry elke kind ruimte om in sy eie tyd te vorder.

Klein handjies wat lemoenskyfies ondersoek tydens sintuiglike spel
3 tot 18 maande

Babas

By babas begin alles by hegting. ‘n Baba wie se honger, ongemak en behoefte aan nabyheid dadelik beantwoord word, bou vertroue, en daardie vertroue is die fondament vir alle leer wat volg. Daarom bly ons versorgers konstant en bekend.

Ons praat heeldag deur met hulle: ons noem hulle op die naam, maak oogkontak en praat gewone Afrikaans, nie babataal nie. Kostyd, doeke omruil en aantrek word almal geleenthede om woorde te hoor. Sang, rym en ritme kom elke dag.

Fisies werk ons aan die groot spiere: tyd op die maag, rol, sit, kruip en die eerste treë, met stewige dinge om aan op te trek. Klein handjies kry blokkies om te stapel, houers om vol te maak en uit te gooi, en later ‘n dik waskryt.

Slaap gebeur in ons aparte, lugversorgde slaapkamer, met Nanit-monitors wat asemhaling dophou. Groei word teen die Weg-na-Gesondheid-boekie gevolg.

Twee peuters wat langs mekaar by 'n houer saam speel
18 maande tot 3 jaar

Peuters

Peuters wil alles ondersoek en het min begrip van gevaar, en dit is presies hoe dit hoort. Ons werk is om daardie nuuskierigheid veilig te laat loop: die omheinde terrein, die baan, die sand en die klimraam, met ‘n grootmens naby genoeg om te vang.

Taal ontplof in hierdie fase. Ons luister aktief en bou terug: sê ‘n kind “my bal”, antwoord ons “wil jy die bal hê?” Ons begin met een instruksie, dan twee, dan drie, en ons vra regtig uit oor wat hulle wil weet. Stories, rympies en gesprek loop deur die dag.

Onafhanklikheid word hier geoefen. Peuters wil self aantrek, self skink, self hande was, en hulle kry die tyd om dit stadig te doen voordat hulle dit goed doen. Ons hou die roetine voorspelbaar sodat hulle weet wat volgende kom.

Fyn spiere kry legkaarte, krale, klei en die eerste skêr. Groot spiere kry balle, dans en die hele buiteterrein.

Kleuter besig met ‘n fynmotoriese aktiwiteit
3 tot 5 jaar

Kleuters

Ons oudstes werk langer aan een ding, speel saam eerder as langs mekaar, en begin self hul aktiwiteite kies. Ons gee hulle rolle: leier, helper, die een wat die storie kies. Konflik in die groep word nie vir hulle opgelos nie, ons help hulle om dit self reg te praat.

Hier lê ons die fondamente vir lees en skryf. Dit beteken klankspeletjies, lettergrepe klap, rym hoor, en die eerste klank van ‘n woord uitken. Dit beteken ook regte potloodgreep, skêr op ‘n lyn, en klei wat vingers sterk maak. Die formele onderrig van lees en skryf begin in graad 1; ons werk is om alles daarvoor gereed te kry.

Getalle werk dieselfde: tel met regte goed in die hand, sorteer volgens grootte en kleur, skat, vergelyk, en die eerste syfers herken.

Skoolgereedheid is boonop nie net letters en syfers nie. Suid-Afrikaanse onderwysers noem selfregulering en sosiale vaardighede eerste: kan ‘n kind wag, luister, ‘n opdrag van drie dele volg, en homself aantrek en versorg? Dit is waaraan ons elke dag werk.

Hierdie is breë riglyne, nie ‘n merklys nie. Die raamwerk self beklemtoon dat kinders uniek is en teen hul eie tempo ontwikkel, met spurte en stiltes. Ons neem waar, teken aan en gesels met jou daaroor. Daar is geen toetse, punte of persentasies nie.

Van 06:40 tot 17:30

Hoe ‘n dag by ons lyk

Kinders voel veilig wanneer hulle weet wat volgende kom. Rol deur ons dag hieronder, en kyk hoe ‘n les by ons lyk.

06:40Deure oopAflaai en begeleide vryspel terwyl almal instroom.
08:00Ouma Bettie se ontbytWeetbix, hawermout of eiers, en niemand begin die dag honger nie.
08:15VryspelBuite op die baan, by die klimraam of op Kareltjie en Gertjie.
11:00Aktiwiteit van die dagDie beplande leerdeel: kuns, musiek, storie of ontdekking.
11:45MiddageteVars gekookte kos, elke dag nuut gemaak.
12:15SlaaptydLigte af, lugversorger aan, en die hele kamer raak stil.
14:10PeuselhappiesIets kleins om weer aan die gang te kom.
14:20BuitespelTerug na buite tot die middag koeler word.
17:30Huis toeLaaste kind gegroet, deure toe.

Tye kan effens verskil per ouderdomsgroep. Babas volg hul eie voed- en slaapritme.

Himne wys ‘n simboolkaart tydens ‘n les by Greenhill
Uit die klaskamer

Simbooltjies as name

Hoekom ‘n klein kleuterskool?

Met beperkte inname ken ons elke kind se naam, persoonlikheid en behoeftes. Klein groepe beteken meer individuele aandag, vinniger identifisering van ontwikkelingsbehoeftes, en ‘n hegte gemeenskap waarin gesinne mekaar leer ken. Dit is die hart van die “boetiek”-ervaring by Greenhill.

Plekke is beperk

Kom sien ons program in aksie

Reël ‘n besoek en ervaar self die warmte en sorg van Greenhill.

Bespreek ‘n besoek