Fasiliteite
‘n Kalm, veilige en moderne perseel waar elke detail die kind dien. By ons is die omgewing self ‘n stille onderwyser: geordend, op kindhoogte en uitnodigend om te verken.
Stap by Greenhill in en die eerste ding wat opval is hoeveel plek daar is. ‘n Fietsbaan wat deur die gras kronkel. ‘n Klimraam op sagte seesand. Perdjies op die stoep en ‘n regte motorfiets in die hooi.
Niks hiervan is toevallig nie. Elke oppervlak, hoekie en stuk toerusting is gekies met een vraag in gedagte: wat sal ‘n kind hier leer, en sal hy veilig wees terwyl hy dit doen?
Meer plek per kind, doelbewus so
Die perseel kan gemaklik baie meer kinders hanteer as wat ons inneem, en dit bly so omdat ons dit so kies. Dit is hoekom daar altyd nog ‘n plek op die mat is, nog ‘n draai op die fietsbaan, en ‘n juffrou wat tyd het om te sien wat jou kind vandag reggekry het.

Ruim buitespeel
‘n Lang, oop terrein met ‘n fietsbaan wat deur kunsgras kronkel, gevestigde bome vir skaduwee en genoeg plek dat kinders regtig kan hardloop. Die perseel is heeltemal omhein en toegang is beheer.
Die buiteterrein is baie groter as ons klaskamers, en dit is nie toevallig nie. Ons mik daarna dat die kinders die grootste deel van die dag buite is, want dit is waar groot motoriese vaardighede, balans en sosiale spel vanself gebeur. Buitespel is nie ‘n blokkie op die rooster nie. Dit is die rooster.

Ruim, lugversorgde klaskamers
Elke klaskamer is lugversorg, koel in die Pretoriase somer en warm in die winter, sodat kinders gemaklik kan konsentreer deur die hele jaar.
Die ruimtes is bewustelik oop gehou: leerhoekies, matte om op te sit en materiaal op kindhoogte binne bereik, met genoeg vloer oor vir groepspel.
Ons gebruik die klas vir die dinge wat daarbinne hoort: Bybelstorie, slaaptyd, sommige aktiwiteite en soms ete. En natuurlik as dit reën. Vir die res van die dag is die deur oop en is ons buite.
Nege verskillende teksture onder klein voete
Sintuiglike ervaring is deel van hoe jong kinders leer. Ons perseel is doelbewus met baie verskillende oppervlaktes gebou, sodat voete en hande elke dag iets nuuts ervaar.

Elke oppervlak leer iets
Wanneer ‘n kind van gras na sand na hout na teels beweeg, pas die liggaam elke keer aan. Dit bou balans, ruimtelike bewustheid en selfvertroue, en dit ondersteun die sintuiglike ontwikkeling wat die NCF as deel van vroeë leer beskryf.
Plek om te klim, ry en verbeel

‘n Groot klimraam op sagte sand
Amptelik is dit ‘n houtklimraam met ‘n glybaan en ‘n dek. Vra enige kind hier en jy sal hoor dis ‘n seërowerskip, en die seesand onder is die see.
Dit werk ook hard: klim bou krag, koördinasie en die selfvertroue om ‘n bietjie hoër te waag. Die dik sand vang elke landing.

Kareltjie en Gertjie
Ons eie gemotoriseerde Kareltjie Kameelperd en Gertjie die Perdjie. Perfek vir balansoefening, en om die kragrekening op te stoot.
Die kleintjies weet presies wie is wie, en daar word gereeld onderhandel oor wie volgende ry.

‘n Egte motorfiets op ‘n veer
Ja, dit is ‘n regte motorfiets. Veilig op ‘n veer gemonteer, sodat ‘n vierjarige kan klim, gas gee en nêrens heen gaan nie.
Dit is waar die stories gebeur. Vandag is hy ‘n polisieman, môre jaag hy in ‘n resies. Die veer wieg net genoeg om balans te oefen, en die hooi rondom gee klein handjies en voete iets nuuts om aan te vat.

‘n Regte baan om op te ry
‘n Geverfde fietsbaan met padmerke kronkel deur die hele terrein. Kinders leer stuur, stop en beurte maak, en leer sonder om te besef ook die eerste beginsels van hoe ‘n pad werk.
Almal kry ‘n behoorlike slapie

Lugversorg, met gedempte lig
Almal slaap hier, van die kleuters tot die kleinste. Die kamer is lugversorg en die ligte gaan af, sodat dit koel en stil bly ongeag wat die Pretoriase weer buite doen.
Die babas het hul eie afgeskorte hoekie, weg van die groter kinders se gewoel.

Nanit-monitors bo die katels
Bo die babas se katels hang Nanit-monitors wat hul asemhaling dophou terwyl hulle slaap, en die kamera wys die hele kamer.
Ons kan dus sien en hoor wat aangaan sonder om die deur oop te maak en almal wakker te maak. Vir ‘n ouer wat ‘n baba vir die eerste keer los, maak dit ‘n groot verskil.
Wat ouers eerste aan dink
Dit is die vraag agter elke ander vraag: is my kind hier veilig? Ons het die antwoord in die gebou self ingebou, van die hek af tot by die slaapkamerdeur.
Niemand leer op ‘n leë maag nie

Regte kookkos, elke dag vars
Om agtuur sit almal saam aan vir ontbyt: Weetbix, hawermout of eiers, warm en reg voor die dag behoorlik begin. Middagete word elke dag vars gemaak, nie uit ‘n pakkie geskep nie, en dit is die soort kookkos wat by die huis op die tafel sou wees. Peuselhappies volg na slaaptyd. ‘n Kind wat geëet het, is ‘n kind wat kan konsentreer, en spesiale dieetbehoeftes reël ons graag vooraf met jou.
Wil jy meer weet oor hoe ons dag inmekaarsteek? Lees oor ons program en kurrikulum, of reël ‘n besoek om alles self te sien.
Kom besigtig ons perseel
Die beste manier om ons omgewing te beleef, is om te kom kuier. Reël ‘n besoek wanneer dit jou pas.
Bespreek ‘n besoek