Himne en haar gesin saam met hul twee honde
Ons Verhaal

Die hart agter Greenhill

Greenhill is gebou op een eenvoudige oortuiging: dat elke kind die persoonlike liefde en aandag verdien wat net ‘n klein, toegewyde skool kan bied.

My liefde vir kinders het al op skool begin. In my graad 10-jaar het ek die geleentheid gekry om na ‘n premature tweeling om te sien. Hulle was so klein en broos dat ‘n mens amper deur hul veltjies kon sien. Vir ‘n paar jaar het ek my vrye tyd, naweke en vakansies by hulle deurgebring. Daarna het ek ‘n dogtertjie van goeie vriende opgepas, en eintlik elke kans aangegryp om “juffrou” te speel.

Ná skool het ek my onderwysgraad deeltyds verwerf terwyl ek voltyds by ‘n skool gewerk het. Met my graad in die hand het ek na ‘n ander skool geskuif, en dit is waar ek besef het: ek stem eenvoudig nie saam met hoe die meeste plekke kinders grootmaak nie. Ek het geweet dit kan anders.

So het ek my eie skooltjie begin. Dit was ‘n vreesaanjaende tree. Ons het in ‘n kompleks gewoon, waar ‘n klein skooltjie erg afgekeur is, maar dit was ons enigste opsie. Ons het vinnig gegroei, en ek en my man moes na ‘n groter plek trek. In die jaar wat ons ‘n huis gehuur het, het ons van 4 kindertjies tot byna 15 gegroei, presies volgens plan, want ons doel was nog altyd om klein en intiem te bly.

In 2023 het ons die geleentheid gekry om ‘n pragtige, pas opgeknapte gastehuis te koop. Ons kon dit verdeel in ons persoonlike woning én my droomskool. Ons is dus letterlik die definisie van ‘n huis weg van die huis.

Sedertdien is ek geseënd om elke dag my droomskool te bestuur, doelbewus klein, sodat jou geliefde nooit net ‘n nommer word nie.

My man is ‘n voltydse meganiese ingenieur, maar ek is gelukkig genoeg om hom ook as my persoonlike skoolassistent in te span, en hy hanteer al ons finansies. Saam met ons ses wonderlike personeellede, ons twee pragtige border collies wat die kinders innig liefhet (Oliver “werk” voltyds, elke dag, by die skool), en Sebastian, die rondloperkatjie wat ons ‘n paar maande gelede aangeneem het, is Greenhill ‘n egte familie: gebou op ons Christelike waardes, waar kinders saam met ons diere leef, leer en liefhê.

Kom ontmoet ons
Himne gesels oor maatjies by Greenhill
Maatjies